Tuesday 16 September 2014
Home / News / Bfn haar wêreldstad

KARIN BRYNARD se tweede boek, Onse Vaders, sleur jou só mee dat resensente sê sy kan by Deon Meyer kers vashou.

En dit is vir die bekendstelling hiervan wat sy in Bloemfontein was.

“Bloemfontein was vir my as kind die groot wêreldstad. Ek het op Postmasburg grootgeword. Vir besigheid het ons Kimberley toe gegaan, maar as dit belangrike sake was, dan het ons Bloemfontein toe gekom, want dit was ’n gróót stad waarheen die grand mense gegaan het.”

En selfs nou dat sy reeds die wêreld gesien het, bly dit steeds ’n aangename plek vir haar. “Bloemfontein se Waterfront is fantasties selfs beter as Randburg s’n. Dit het van die beste museums in die land. En dan is dit natuurlik ook in die Vrystaat ’n pure Zen-landskap.”

Haar hande gesels saam en dit is met die wys hoe wyd die Vrystaatse landskap is dat haar gespalkte hand en arm jou opval.

Skaam-skaam vertel sy dat sy dié op twee plekke gebreek het. “Voordat ek soggens begin skryf, mediteer ek. En dit is met dié dat ek lighoofdig gevoel en geval het.”

Gelukkig was Onse Vaders toe reeds klaar geskryf. “Dit is sit en sweet, want 99% was herskryf. Soos hulle sê: The art of writing is rewriting.”

Maar Karin werskaf reeds aan haar derde boek. Nes in die eerste, Plaasmoord, sal kapt. Beeslaar ’n moord in die Noord-Kaap moet oplos.

“Elk van my boeke begin baie naby aan die been. Dan volg die verdigsels en duimsuigery en dan beitel jy weer af. Jy mag nie dat die feite inmeng met ’n goeie storie nie en dit is moeilik as jy jare lank joernalis was.”

Tog sê Karin het sy nooit morbied geword deur só deur die bloed en derms te grawe tydens haar navorsing nie.

“Inteendeel. Ek kry hoop. Ontmoet mense op voetsoolvlak en jy ontdek die warmte van onse mense.”

Mense soos tannie Gertruida Lambrechts (90), berig Adéle Dempers.

Karin se ouers en tannie Gertruida-hulle was goeie vriende op Postmasburg. Dit was die eerste keer in 35 jaar dat Karin en tannie Gertruida mekaar gesien het en hulle het lekker “reünie” gehou.

Tannie Gertruida bly nou in Bloemfontein en Karin op Stellenbosch.

Maar as sy aftree, wil Karin terugkom Vrystaat toe. “Dalk Koffiefontein toe waar ek gebore is. So nie Kraaifontein, dis al wat ek sal kan bekostig,” sê dié skrywer wie se boeke van die rakke vlieg.

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE

top
bottom