Friday 25 July 2014
News / Weet en verbeel

WEET en vergeet, en onthou en verbeel, is baiekeer moeilik uitmekaar te hou.

Kyk maar hoe dinge van die verlede dan in dié, dan in daai, dan in die ander gedaante opduik. Die Anglo-Boereoorlog; Apartheid; die Grensoorlog; die Struggle. Reg om opgesaal en ingespan, of vir nuwe kampanjes weggemoffel te word.

Uit wat geleerde mense sê, lei ek af dat wat ons die geskiedenis noem, stuk-stuk eintlik vangnette is om vandag se spoke in hok te slaan.

Vat ons Bloemfontein, byvoorbeeld.

Hier was vroeër ’n inboorlingnedersetting genaamd Mangaung, en toe is dié mense verdryf en ’n setel vir Euro- peërs in die plek daarvan gebou. Reg?

Van toe af heet hy Bloemfontein, en so gaan dit bly. Reg?

En sy hoofstraat heet steeds Maitlandstraat?

Nou die dag vertel ’n kennis wat op Brits in die ou Wes-Transvaal grootgeword het, van ’n plaasnefie wat as jong kind ’n verbeelde speelmaatjie gehad het. Dié hersenskimvriendjie het later selfs ’n naam en persoonlikheidseienskappe bygekry.

Die geduldige ouers het ’n ekstra plek aan tafel begin dek. ’n Bykomende ponie is opgesaal as daar perd gery word. Dan draf laasgenoemde so aardig ruiterloos saam veld toe.

Op ’n dag, op pad dorp toe, kry die pa net mooi genoeg toe Boeta en sy spookmaatjie van speelsiekheid nie tot sit kan kom hier agter op die bakkie nie.

Hy stop. Boeta moet sy vriendjie op die naam groet, vir oulaas en altyd. Dié moet terug Kammaland toe.

Boeta snik, maar maak soos Pa sê. Begrafnisstilte in die kar die res van die pad.

Later hou hulle by die vulstasie stil vir diesel. Boeta gaan staan eenkant die leë straat af en kyk.

Skielik stoot hy sy hande triomfantelik voor hom uit: “En kyk net wie kom hier aangestap!” SBernard Odendaal (ATKV-skryfskool van die Noordwes-universiteit)

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE

top
HAVE YOUR SAY Suggest future poll
Waterrekening
Vertrou jy dat jou waterrekening akkuraat is?
Ja, dit word noukeurig gemeet.
Nee, ek dink ek word beduiwel.
top
bottom