Thursday 27 November 2014
Home / News / Breër N1 kom

VOORTAAN sal jy byna tot by die Tierpoortdam op ’n dubbelpad kan ry.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) het pas ’n kontrak vir die opknapping en instandhouding van die N1 tussen Sydenham en die afdraai na die Tierpoort-stasie anderkant die Tierpoortdam toegeken. Dit is ’n afstand van 28,3km.

Sydenham is by die brug waar die laaste brandstofstasie buite Bloemfontein is, oftewel waar jy van die N1 na Reddersburg kan afdraai.

Die werk sal oor 26 maande strek, sê Felix Sebata, woordvoerder van Sanral.

Die N1 is tans dubbeld tot byna by Leeuberg. Dié vier bane sal van hier vir ’n verdere 14,6km verleng word.

Kyk jy op http://maps.google.co.za/ dan sien jy dat dié breë pad ver oor daardie lang vlakte, wat bekend is vir sy ongelukke, tot byna by die Tierpoortdam sal strek.

Die res van die pad tot by die brug na die Tierpoortstasie sal dieselfde breedte bly as wat dit nou is.

Die fondament van dié deel van die pad sal egter versterk word en die dreineringstelsel verbeter word.

Sanral beloof dat motoriste nie tydens bouwerk hoef te stop nie, want tydelike paaie sal gebou word. Die nuwe stukke pad sal ook ingespan word om die verkeersdruk te verlig.

Laer spoedperke sal egter geld. Motoriste word gemaan om hierby te hou ter wille van hul eie veiligheid én die van ander.

John de Wee, ’n Bloemfonteiner wat gereeld dié pad gebruik, was verheug oor die verbreding van die N1.

“Dit gaan beslis baie minder ongelukke beteken, want die mense raak by Onze Rust se bulte ongeduldig. Nou sal jy maklik verby kan gaan.”

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE & BACK COPIES

top
HAVE YOUR SAY Suggest future poll
Vakansie
Gaan jy die vakansie …?
Weg met vakansie
Tuisbly
Na familie vir Kersfees
top
bottom