Friday 01 August 2014
Sport / Oop gesprek met Harold

FRIKKIE VAN RENSBURG, ’n voormalige sportredakteur van Volksblad, het Harold Verster eens só beskryf: “’n Man met ’n ongelooflike liefde vir rugby en ’n passie om dit onder almal te bevorder...” ’n Raak beskrywing as jy in aanmerking neem dat Verster die langsdienende president van die Vrystaatse Rugbyunie (VRU) was (1993 - 2012).

Oor sy leierskap in Vrystaat-rugby is Harold beskeie. “Ja, daar was wonderlike hoogtepunte, maar in moeilike situasies kan die kritici ongenadig wees. Ek is al in openbare plekke voor my gesin beledig. Positiewe kritiek kan ek hanteer. Ek kan iets aan die probleem doen. Die publiek soek resultate, ’n mens verstaan dit.”

Die bou van die nuwe stadion in 1994 waarin Verster ’n deurslaggewende rol gespeel het, was ’n groot mylpaal. Dit was ’n deurbraak vir Vrystaat-rugby, veral omdat hulle toe onder die vyf topunies in die land was. Dit het ook later gehelp om die Super-14-franchise te bekom.

In 2008 is die stadion vergroot met die bou van ’n nuwe hoofpaviljoen wat die sitplek-kapasiteit van 38000 tot 46000 opgestoot het. Dit was in moeilike finansiële omstandighede voor die Wêreldbeker-sokkertoernooi. Die eerste Drienasie-toets kon toe ná 32 jaar hier gespeel word.

Die vestiging van die Cheetah-handelsmerk in 1997 was nog ’n hoogtepunt. So ook die verkryging van die SuperSport-buite-aandele. Verster se ywer het ’n rol gespeel in die borgskap wat Vodacom oor vyf jaar aan die sentrale streek en Vrystaat-rugby bewillig het.

En dan was daar die groot oorwinning in 2005 toe die Cheetahs die Curriebeker die eerste keer in 29 jaar verower het. “Daar is nie woorde om te beskryf hoe ek ná die wedstryd op Loftus gevoel het nie!”

Oor die toekoms van Vrystaat-rugby is Verster, ondanks ’n paar uitdagings, positief. “Ons wil professioneel en passievol presteer.” Die Cheetahs het reeds verskeie Springbokke opgelewer en hierop wil hulle voortbou.

Hy is dankbaar vir sy ondersteuningsbasis kollegas wat die wa deur die drif help trek. Vir Lindsay Mould, huidige president van Vrystaat-rugby, het Verster groot lof. “Ons het ’n professionele verhouding gebou op integriteit.”

Op die vraag of sy lewe nét uit rugby bestaan, kry die man ’n vonkel in sy oog. Hy wys trots na die gesinsfoto’s op sy lessenaar. “My vrou en kinders is my lewe. Erica (sy vrou) ondersteun my deur dik en dun. Ek is ook al ’n oupa, weet jy?”

Harold het nog drome. Ná rugby sal hy graag as motiveringspreker wil optree en meer tyd vir sy familie inruim. “Ek is lief vir die Vrystaat. Ek wil híér ’n verskil maak.”

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE

top
HAVE YOUR SAY Suggest future poll
Slaaptyd
Is jy...
'n naguil?
'n oggendlewerik?
top
bottom